Hallo aan almal wat graag ons ervarings wil deel met ons groot trek na 'doer onder'!
Eers 'n bietjie agtergrond .....
Ons het so twee en 'n half jaar gelede besluit om te emigreer na Australië. Ons kwalifiseer vir die "Skilled Visa". Dokumente is ingedien en na die lang gewag is ons nou uiteindelik oppad Brisbane toe. 17 Oktober 2008!
Ek is 'n Laerskool Onderwyseres en Roald is 'n Bedryfsielkundige - Menslike Hulpbron Bestuur.
'n Hele paar keer het mense ons al gevra of ons werk in Australië het .. die antwoord is, nee. Ons kry interessante reaksies van mense. Ek weet almal wonder hoe 'n mens sommer net so kan oppak en gaan sonder 'n werk. Wel , glo my, ons het ons huiswerk gedoen!
Ek is positief dat ek sommer in die eerste maand sal kan begin aflos by skole en so dan 'n naam vir myself kan begin maak. As Roald nie vinnig regkom by 'n maatskappy nie dan, soos hy sê "gaan lê ek stene!". Enige iets om uit hierdie land te kom! 'n Nuwe begin en 'n nuwe lewe!
Dis nie maklik nie. Ons pak nie sommer net op en loop nie. Daar is so baie om voor dankbaar te wees, maar ons het nou 'n tweede kans gekry!
Gister was ons op Kingspark ..... die eerste van nog baie trane .... Ek was nog nooit mal oor ons nuwe Suid-Afrikaanse volkslied nie. Voor ek myself kon keer het die trane gerol toe duisende Suid-Afrikaners die volkslied op Kingspark sing. SA vs AUS! Ek het gemengde gevoelends gehad oor die wedstryd ..... maar jou geboorteland sal altyd in jou bloed bly ....!
Om 'n mens se familie en vriende agter te laat is die ergste. Daar lê nog baie trane voor in die volgende maand of so .....
Lynette
No comments:
Post a Comment